Egskeidingskoste Teenoor Beradingskostes

Date Written: 
7 Feb 2022
Category: 

Die kostes van egskeidings is nie net finansieel van aard nie, maar ook emosioneel en fisiek.

Wanneer ons kyk na die finansiële implikasies is die algemene kostes soveel meer as wat aanvanklik beplan word.  Daar is altyd verskuilde kostes wat nie vooraf gesien kon word nie.

Die gemiddelde kostes van ‘n egskeiding kan enige iets van R20 000 – R150 000 plus wees.

Die emosionele implikasies is veelvuldig:

  • Die emosionele pyn van mislukkings, verwerping, skuldgevoelens, woede en baie meer sal baie sterk in alle partye teenwoordig wees.
  • Die trauma wat kinders beleef is skrikwekkend en die verbrokkeling van die gesin sal ‘n impak op die kinders hê wat ouers sal noodsaak om kinders vir sielkundige hulp te neem wat nog meer finansiële kostes meebring.

Wat is die algemene foute wat egpare maak:

  • Hulle dink hulle kan self hulle probleme uitsorteer.
  • Hulle ontsien die geld.
  • Hulle is ingestel om vinnige oplossings met die minste moeite te kry.
  • Hulle maak nie hulle huwelik hulle nommer een aardse prioriteit nie.
  • Hulle gaan vir ‘n rukkie tot hulle bietjie beter voel en hou dan op om vir berading te gaan.

Die goeie nuus is dat sou jy besluit om vir hulp te gaan kan jy vir een volle jaar, eenmaal per week by ‘n berader spandeer en dit gaan jou bes moontlik ‘n derde kos van wat jou  egskeiding gaan kos.

Hier volg ‘n paar voordele van gereelde sessies by ‘n berader / lewensafrigter:

  • Jy bly gefokus en op koers.
  • Jy is emosioneel en geestelik beter toegerus vir uitdagings wat mag opduik.
  • Jy word gemotiveer om te groei in alle areas wat nodig is. .
  • Jy het ‘n veilige plek en ‘n persoon wat jy kan vertrou om emosioneel te ontlaai. Deur hierdie proses kry jou brein die geleentheid om die volle prentjie te verstaan en ‘n beter vermoë om die regte besluite te neem.
  • Jou siel en gees kry die nodige versorging om optimaal te funksioneer.
  • Soos wat gereelde fisieke oefening en ‘n gesonde dieet ‘n gesonde liggaam tot gevolg het, so help gereelde besoeke aan ‘n berader / mentor / lewensafrigter om jou siel en gees te versorg.

(Onthou wanneer die verhouding herstel is, hoef die sessies nie weekliks te wees, dit kan 2 weekliks of selfs net eenmaal per maand wees.)

This piece was written by: 
Ian Cahn
All Rights Reserved | 
Huweliksfokus Pretoria | 
Copyright © 2022