Drie Liefdes vir ‘n gelukkige huwelik

Date Written: 
7 Feb 2022
Category: 

Agape liefde

Wanneer ek vir jou sê dat ek jou liefhet dan bedoel ek dat ek jou onvoorwaardelik liefhet en daarom verklaar ek die volgende:

Ek besef dat ek hierdie liefde nie uit myself kan gee nie en daarom sal ek daagliks tyd met God spandeer aangesien Hy die bron van hierdie liefde is.

Ek sal streef na geestelike eenheid met jou, deur gereeld saam met jou Bybelstudie te doen en vir jou te bid.

Ek sal aan jou erkenning gee as ’n geskenk uit God se hande.

Ek sal kies om te vergewe en om jou lief te hê al maak jy foute.

Ek sal kies om jou lief te hê al maak jy my soms seer deur jou optrede.

Ek sal jou aanvaar soos jy is en jou nie probeer verander nie.

Ek sal jou liefhê en niks inruil vra nie.

Ek sal my lewe vir jou gee en jou liefhê tot die dood.

Phileo Liefde

Wanneer ek vir jou sê dat ek jou liefhet dan bedoel ek dat ek jou met vriendskap liefde liefhet en daarom verklaar ek die volgende:

Ek sal jou aanstel as my beste vriend en kwaliteit tyd met jou spandeer.

Ek sal pret aktiwiteite met jou reël sodat ons mekaar kan geniet.

Ek sal my denke en emosies met jou deel tot dit een is.

Ek sal my drome en ideale met jou deel, maar die drome en ideale wat ons gesamentlik sal ontwikkel sal my eerste prioriteit bly.

Ek sal kies om jou nie te oordeel of te kritiseer vir jou optrede nie.

Ek sal jou nie verneder nie maar begrip toon vir jou siening.

Ek sal jou beskerm teen alle emosionele of fisiese bedreigings.

Ek sal jou help om jou kwaliteite maksimaal te ontwikkel.

Eros Liefde

Wanneer ek vir jou sê dat ek jou liefhet dan bedoel ek dat ek jou romanties en seksueel liefhet en daarom verklaar ek die volgende:

Ek sal aanhou werk aan ons romantiese en seksuele eenheid.

Ek sal dit geniet om jou romanties te bederf soos jy daarvan hou.

Ek sal jou seksuele behoeftes kosbaar ag en dit soms teer en soms met ’n tikkie pret leer bevredig.

Ek sal waak teen verleiding van buite en niks toelaat om tussen ons te kom nie.

Ek sal suksesvol wees want die Outeur van liefde leef in my.

This piece was written by: 
Ian Cahn
All Rights Reserved | 
Huweliksfokus Pretoria | 
Copyright © 2022