Die Wonder van Vergifnis
As iemand ons seermaak, is dit maklik om kwaad te word. Ons verhard ons hart om ons teen verdere seerkry te beskerm. Hoewel dit normaal is om aanvanklik gekwets en kwaad te voel, is sulke gevoelens veronderstel om verby te gaan. Op die lange duur gebruik volgehoue bitterheid baie meer emosionele energie as wat dit opwek. Dit laat ons prikkelbaar en angstig voel, versuur ons lewe en beroof ons van vreugde. Om te leer vergewe, beteken nie dat jy in die toekoms immuun teen seerkry sal wees nie. As jy egter vergeef, sal jy minder en korter ly. Dit is ‘n vaardigheid wat enigiemand kan aanleer:
1. Erken dat jy seergekry het. Baie mense gee voor dat hulle nie omgee as iemand hulle seermaak nie. So skuif jy jou pyn op die agtergrond, waar dit dan begin sweer. Erkenning dat jy seergemaak is, is die eerste stap na genesing.
2. Staan vir ‘n rukkie weg van jou pyn. As iets jou ontstel, haal ‘n paar keer diep asem en dink aan iemand vir wie jy lief is of wat vriendelik met jou was. So herinner ‘n mens jou daaraan dat jy kan kies waarop jy jou aandag wil fokus, en jy sal jou op positiewe dinge kan toespits.
3. Besef dat vergifnis ‘n besluit is wat ‘n mens bemagtig. As jy ‘n doelbewuste besluit geneem het om iemand te vergewe, sal jy die een wees wat die uitkoms van die verhouding bepaal.
4. Moenie wag vir ‘n verskoning nie. Ons raak maklik selfvoldaan en weier om te vergewe as niemand ons om verskoning vra nie. Dit bring egter mee dat ons jare lank aan ons woede vasklou. Ons laat ons welstand in iemand anders se hande.
5. Dink aan die verligting wat oor jou gespoel het toe ‘n geliefde jou vergeef het.
6. Voer ‘n simboliese daad uit soos om ‘n kers aan te steek en jou te verbeel dat jou woede saam met die was wegsmelt of skryf al die gevoelens neer en dra dit op aan die Heer en steek dit daarna aan die brand en vergeet daarvan.
7. Maak ‘n gewoonte daarvan om te vergewe. Begin by iets onbenulligs. Gestel jy is haastig en die persoon voor jou by die snelkassier in die supermark het te veel goed in haar mandjie. Sê vir jouself: Dis nie belangrik nie. Ek daag myself uit om geen kwade gevoelens jeens hierdie persoon te koester nie.
8. Moenie haastig wees nie. Vergifnis maak nie alles onmiddellik reg nie; dit is bloot die belangrikste eerste stap om ‘n verhouding wat geskend is, te herbou.
9. Vergeet van ‘vergeet en vergewe’ Gekwetste gevoelens kan voortduur selfs nadat jy vergewe het. Dit kan selfs noodsaaklik wees om in die een of ander stadium die verskoning te hernu. As jy ‘n wrok afskud, maak dit jou vry om aan te beweeg.
10. Ten laaste moet jy onthou om nie jou eie naam van die vergifnislysie weg te laat nie. Om ander te vergewe, is net die spieëlbeeld daarvan om onsself te vergewe.
Onthou:
Neem verantwoordelikheid vir jouself en jou lewe
(Dit sluit in wie jy is, wat jy doen en wat jy in die lewe bydra.)
Moenie ‘n slagoffer wees nie.
(As jy glo dat die lewe onregverdig is, word jy een. Kyk realisties na jou lewe en beweeg aan. Dink daaraan dat alles wat met jou gebeur ‘n geleentheid is om na jou volle potensiaal te groei.)
Verander jou uitkyk
(Om die lewe as onregverdig te beskou, is maar net een manier van na die saak te kyk en nie noodwendig die volle waarheid nie. Jy kan nie alles beheer wat met jou gebeur nie, maar jy kan jou reaksie daarop beheer.)
Leierspaar
Deon en Karin Du Toit
012 348 4837Beskermraad
Huweliksfokus staan onder beskerming van:
ds. Dirkie vd Spuy (Leraar - Moreletapark gemeente)
dr. Arnold Mol (Opvoedkundige & skrywer)
Pastoor Neville Norden (Leraar - Lewende Woord gemeente)
Brink en Alet Gardner (Stigterslede)Navrae & Besprekings
Vicky De Jager
086 111 4797
huweliksfokus@telkomsa.net
Ekstras
- Artikels (8)
- Nuusbriewe (1)
- Videos (2)



