Om soos Jesus te wees
Van vroeg af in my Christelike lewe is dit ‘n frase wat bo aan die lysie staan van wat ek moet doen of hoe ek moet wees. “ Ek moet soos Jesus wees”. Ek moet soos Hy praat en staan en optree en my woorde kies en ander so behandel. Ek moet soos Hy wees!
Iewers kom iemand die bemarkbaarheid van die sê ding agter en nou moet ek my oggend tee met my linkerhand drink anders skreeu die beker vir my “Jy moet soos Jesus wees!” of die bandjie om my arm, of die tydskrifte en boekmerke en preke. Ag Vader, kan ek nie maar net vandag myself wees nie. Kan ek nie maar net dinge doen soos ek goed dink nie en as dit dan nou verkeerd is, iemand seer maak of te na kom, dan belowe ek om askies te se.
Nie ‘n slegte idee nie né, maar dan sal ek ook moet ophou om almal om my te beoordeel aan “dis darem nie wat Jesus sou doen nie”. Ek weet, gelukkig doen ons dit darem nie te ooglopend nie maar het eerder ‘n goed ingeoefende kop skud met meegaande tong geluidjies en ‘n gesig wat getuig van werklike empatie met die ander se onvermoë om tog net soos Jesus te wees.
Karin sit jare terug met ons tienjarige en huiswerk deur worstel toe hy skielik sy kop op sy bors laat sak en stadig soos ‘n robot se, “my…batterye…is…nou…pap…ek ….kan…nie…meer…nie.
Ouens, ek voel ook nou so, my “batteries is fodde”. Ek kan ook nie meer nie. Ek is moeg vir die skuldgevoel en die algemene gevoel van mislukking. Wat gaan gebeur as ek nie soos Jesus is nie, maar eerder soos ekself? Moet my hele lewe altyd gaan oor wie ek nie is nie, eerder as oor wie ek wel is. Het iemand nie iewers gesê dat ek nooit sal kan verander tensy ek nie eers erkenning kry vir wie ek is nie. Maar nee, “not good enough”, ek moet ‘n rolmodel hê, ‘n mentor, wat my help om soos iemand anders te wees. Geen wonder die helfte van die wêreld sit met ‘n identiteitskrisis nie.
Het Jesus nie eerder vir ons ‘n ander boodskap gebring nie. Was dit nie eerder een van vertroue in jouself, in jou eie uniekheid nie. Hoekom anders het Hy ons dan so wonderlik verskillend gemaak? Natuurlik het Hy vir ons ‘n voorbeeld kom stel, maar reeds daarin lê die probleem. Hy het vir ons kom wys hoe Hy dit doen en nou kan ons Sy beginsels gebruik en dit op ons eie manier doen. Het ons nie al so eie met Hom geraak, dat ons die God van die heelal verneder het tot op ons vlak van mens wees, en nou dink ons dis moontlik om soos Hy te wees nie. “ Dream on baby!” Ons sal dit nooit maak nie, ons sal nooit soos Hy kan wees nie, want Hy is God!
Nee, ek het ‘n nuwe plan. God se Gees lewe in my omdat ek vir Jesus Christus as my verlosser aangeneem het. Die Helige Gees wil my nie soos Jesus hê nie maar eerder soos die beste Deon as wat ek maar vir Jesus kan wees. Ek is klaar om soos iemand anders te probeer wees net om iemand ander gelukkig te maak terwyl ek self siels ongelukkig is. Van nou af is ek Deon vir Jesus, en as my beste pogings nie goed genoeg vir jou is nie, onthou tog ek bly ‘n sondaar in proses. Miskien moet jy maar meer soos Jesus probeer wees…………
Lief en leed in Huweliksfokus
Christiaan en Sherise Roux het vir Christin van God af ontvang met groot dankbaarheid. Christiaan sê geen vooraf gepraat kon hom voorberei vir daai gevoel nie en hy sal ook nie vir ander kan se hoe dit voel nie, hulle sal self moet wag en voel.
Ons skoondogter Nadia in Amerika is ook weer verwagtend met nog ‘n seuntjie. As God wil gaan hy sy opwagting so aan die begin van September maak. Dan het ons een klein dogter en drie seuntjies in Amerika. Die ander twee kleinseuns in Alberton het ook ‘n nuwe maatjie gekry. Die Here het vir Renier en Tanya daartoe gely om as pleegouers op te tree vir vierjarige Jacky.
Hoe gee jy om vir ander?
‘n Muis het ‘n muisval in die plaashuis opgemerk. Ontsteld het hy na sy vriende gehardloop en hulle vertel. Die hoender het gesê, “jammer maat, nie my probleem nie.” Die vark het gesê, “Ek bid vir jou.’ Die bees was besig en het gesê hy moet later terugkom. Die arme muis moes maar alleen die probleem aanpak. Daardie nag het ‘n giftige slang in die huis gekom en die boervrou gepik. Sy het ‘n hewige koors ontwikkel. Soos almal weet, is hoendersop goed vir koors. Die boer het dus die hoender geslag. Sy vrou se toestand het bly versleg en die boer moes ook die vark slag om die bure, wat op die plaas byeengekom het, te voed. Oplaas is sy vrou oorlede en die boer moes noodgedwonge ook die bees slag om aan die begrafnisgangers kos te verskaf. Almal het dus op die ou einde verloor!
Die Bybel sę, ‘…praat die depressiewes moed in, ondersteun die swakkes, wees geduldig met almal.’ Dit verg slegs die volgende om ‘n aanmoediger te wees: gewilligheid om ‘…die swakhede te dra van die wat nie sterk is nie, en nie onsself te behaag nie…’ (Romeine 15:1 1983-Vertaling). Voordat jy besluit iemand anders se probleme traak jou nie, lees hier: ‘…As een lid swaarkry, kry al die lede saam swaar…’ (1 Korintiërs 12:26). Jy kan nie sonder meer ander se hartseer ignoreer nie; dit kan môre met jou gebeur! Ons word aangesê om ‘…ander gelowiges wat swaarkry [te help]…’ (Galasiërs 6:2 NLV). Wanneer een van ons bedreig word, is almal in gevaar. Ons lewens is ineengevleg om ‘n rede; elkeen van ons is ‘n onmisbare draad in ‘n ander se tapisserie.
Die wat ‘n ware verhouding met God ontdek het sal weet dat dit nie meer bestaan uit ydele woorde en leë beloftes en mooi praatjies nie. Nee, dis op Sy skoot sit en een tot een oogkontak en gesels. Ons moet onsself onderskei van die wêreld af en dit is om op ‘n baie meer intieme manier vir mekaar daar te wees, in die moeilike tye sowel as in die goeies.
Baie Dankie
Die Woord se daar is ‘n tyd om te gee en ‘n tyd om te neem. God het dit goed gedink om Huweliksfokus te bederf met ‘n nuwe perseel waar ons die Pretoria seminare aanbied. Louis McLaren van Shere Empowerment Conference Centre borg ons seminare vir 2011. Alles omtrent die perseel, die diens en verversings getuig van mense wie se harte uitverkoop is aan Jesus Christus en wat die begrip “diensbaarheid” hul hoogste prioriteit gemaak het.
Ons grootste dank aan julle!
Vir alle konferensie, funksies en troues kan julle hulle gerus kontak.
Leierspaar
Deon en Karin Du Toit
012 348 4837Beskermraad
Huweliksfokus staan onder beskerming van:
ds. Dirkie vd Spuy (Leraar - Moreletapark gemeente)
dr. Arnold Mol (Opvoedkundige & skrywer)
Pastoor Neville Norden (Leraar - Lewende Woord gemeente)
Brink en Alet Gardner (Stigterslede)Navrae & Besprekings
Vicky De Jager
086 111 4797
huweliksfokus@telkomsa.net
Ekstras
- Artikels (8)
- Nuusbriewe (1)
- Videos (2)



