Op 11 September, die dag van die herdenking van die val van die Torings in Amerika, hoor ek dat die melanoom wat op my been uitgesny is, die een is wat ‘n mens nie wil hê nie.  Ons hoor so baie van mense se swaarkry, en slegte nuus as dit by gesondheid kom en dink nie daaraan dat dit met jouself kan gebeur nie en skielik word ons gekonfronteer met hierdie werklikheid.  Ons eerste gedagtes was dat ons iets moet leer, dat daar ‘n getuienis sal wees en dat ons al die antwoorde by God sal kry.  Van daar af hanteer ons een dag op ‘n slag.

As ek eers oor die negatiewe kan praat sal dit wees oor my gedagtes wat wonder of dit nou die begin van die einde vir my is, hoe sou dit wees om te sterf, is ek gereed daarvoor, wat van Karin en die kinders en kleintjies, sal hulle “okay” wees sonder my.  My ego’tjie kry sommer baie gou seer toe ek wou lang stories maak oor dit wat my getref het en Karin antwoord met:  “Man ‘n mens gaan nie so maklik dood nie, ruk jou reg.”  Ek soek toe maar simpatie by die Here en op my vraag of ek gaan doodgaan sê Hy:  “Jy weet dat Ek jou liefhet en dat Ek ‘n plan vir jou lewe het, hoekom twyfel jy?  Ek het jou gewaarsku dat dit vir jou moeilik sal wees op aarde.  Die vraag is nie of jy gaan sterf nie , die vraag is sal jy My nog liefhê as jy kanker het?”

Van daar af het die Here meer met ons gepraat as wat ek nou kan neerskryf.  Hy het bevestig dat Karin reg was, dat hierdie siekte nie noodwendig oor my gaan nie maar ook oor ander.  Toe ek op ‘n stadium ook vra vir spesifieke skrif oor Sy belofte van genesing sê Hy:  “Nee, Ek het nie nodig om vir jou skrif te gee nie, Ek praat dan persoonlik met jou!”  Ek en Karin het ons harte vir die Here gegee op 20 Junie 1994.  ‘n Paar maande daarna gee die Here vir my ‘n skrifgedeelte wat vir my die eerste bevestiging was van God wat in ‘n lewende verhouding met my wil staan.  Jesaja 12:1-2:  “ Op daardie dag sal ek sê:  Ek loof U Here!  U was kwaad vir my maar U is nou nie meer kwaad nie en U het vir my ‘n uitkoms gegee.  God is my Redder ek vertou op hom, ek is nie meer bang nie.  Die Here my God is my krag en my beskerming;  Hy is my Redder”  Die Here bevestig ook Sy woord aan my deur vir Karin op dieselfde tyd ‘n skrif uit Sefanja 3:15.  Die oggend van my operasie herinner die Here my tog weer aan hierdie skrifgedeeltes.  Ons het verder so baie bevestiging van Sy beloftes gekry en bemoediging dwars oor Suid Afrika en die buite land , en het eerstehands beleef hoe dit voel om deel te wees van so ‘n groot geestelike familie.

Baie dankie aan elkeen wat vir ons ingetree het.  Julle gebede het die pad vir ons so maklik gemaak.  Dankie aan ons Hemelse Vader wat ons van die begin af presies vertel het hoe sake sou verloop en gesorg het dat ons die beste mediese versorging ontvang het.  Die laaste woord wat die Here gespreek het aangaande hierdie verhaal in ons lewe?

“Getuig oor wat Ek gedoen het”  Here ons gehoorsaam!

 

 

Lewe elke dag voluit

Andrew en Louwtjie Kotze is reeds jare lank Bestuurslede en medesprekers op Huweliksfokus seminare maar binne twee weke verander ‘n sinus aanval tot by ‘n beroerte en moet ons almal met ‘n skok besef dat die lewe nie ‘n waarborg is nie.  Hy was die afgelope drie weke in Durban in die hospitaal gewees en word eersdaag oorgeplaas na Fourways waar hulle sal voortgaan met sy rehabilitasie proses.  Ons is so dankbaar vir die Here wat hom reeds weer al hoe meer beweging en mobiliteit terug gegee het en dat sy spraak ook daagliks verbeter.  Louwtjie het spesifiek vir die Here gevra dat hy nie sy sin vir humor sal verloor nie en van die eerste woorde wat hy gesê het was: “ek was so bedrywig vandag gewees” waarna ons almal histeries aan die lag gegaan het van dankbaarheid.

Drie maande na hierdie gebeurlikheid besoek Andrew en Louwtjie weer die Hospitaal in Durban om dankie te se.  Die dokters is stomgeslaan oor sy spoedige herstel en die sjirurg bevestig dat dit net die betrokkenheid van die Here kon wees.  Sy verwagting was dat Andrew moontlik na ‘n jaar se intensiewe rehabilitasie weer sou kon dink aan begin werk.

Ons eer God vir Sy liefde en betrokkenheid in hulle lewens.

 

Comments are closed.

Set your Twitter account name in your settings to use the TwitterBar Section.