Meer oor Deon en Karin du Toit

Hul ontmoeting tydens hul matriekjaar was liefde met die eerste oogopslag.  Na afloop van daardie jaar is Deon opgeroep vir militêre diensplig en Karin het verder gaan studeer.  Kort daarna het sy ontdek dat sy swanger is.  Met die ondersteuning van hul ouers en na alle opsies oorweeg is, het hulle besluit om wel te trou.

Die eerste 15 jaar van hul huwelik was gekenmerk deur jaloesie, stilstuipe, selfsug, finansiële bankrotskap, onversoenbare verskille in die hantering van kinders en finansies. ‘n Gebrek aan kennis oor die praktiese uitvoering van hul onderskeie rolle as die hoof van die huis en as hulpmaat het bygedra tot verdere onmin en verwydering.  Daar is onderskeidelik twee seuns gebore uit die huwelik, Renier en Ruan.

Op uitnodiging van goeie vriende, wat reeds agt jaar vir hulle gebid het, woon hulle in 1994 hulle eerste huwelikseminaar onder leiding van Brink en Alet Gardner en Willem en Esthie Steyn by.  Tydens die naweek kom hulle tot die besef dat hulle nie God se plan vir hul huwelik en lewe geken of gevolg het nie.  Dit word ook vir hulle duidelik dat hulle verlede ‘n baie groter invloed in hulle lewens het as wat hulle besef het.    Hulle besluit albei om God die Koning van hul lewens te maak.  Met ‘n nuwe passie en volle oorgawe aan God neem hulle nuwe besluite vir hul lewens en begin radikale veranderinge aan te bring in gehoorsaamheid aan God.  Hulle begin iets te beleef van God se oorvloed en genade in hul lewens.

In 1996 raak hulle deeltyds betrokke by Huweliksfokus met ‘n brandende passie in hul harte vir Jesus Christus en vir huwelike.  Met verloop van tyd ondergaan hulle opleiding as huweliksberaders en in 2001 neem hulle die leisels oor as voltydse leierspaar van Huweliksfokus.

Vandag volg hulle hulle roeping nl. om ander ook te laat deel in God se vreugde.  Hulle twee seuns is albei getroud en hulle is die trots oupa en ouma van ses kleinkinders.

 
Set your Twitter account name in your settings to use the TwitterBar Section.