Die probleem is, my maat wil ook net doen wat hy of sy wil, en dan het ons twee wille en nie ‘n weg nie, en kort voor lank is dit sommer weg met die huwelik.

Ai, dis darem maar regopsit woorde hierdie.  Ons kan mos nie sommer net sê,  “Ek is nie meer lus nie” of  “Dis nie meer lekker nie” of  “My maat maak dit vir my onmoontlik  om aan te gaan .”

Ek het darem eendag lank gelede ‘n belofte gemaak voor ‘n klomp mense en die Here, iets van ……. vir botter of vir wors,  in siekte of  gesondheid, tot die dood ons skei.  Helaas die vindingrykheid wat ons aan die dag lê om by hierdie belofte verby te kom, oortref by verre die verskonings wat ons uitdink as die “spietkop” ons aftrek vir ‘n spoedoortreding.

Hokaai!  Wag ‘n bietjie, sal jy sê, ek gee darem regtig nie om as die botter ‘n bietjie min raak nie, selfs so nou en dan heeltemaal op raak,  is ook hanteerbaar, maar as ek darem maand in en maand uit net wors eet, raak dit darem te veel.

Hy is deesdae met sy werk getroud en nie met my nie.  Hy stel nie belang in die kinders nie, en die bietjie tyd wat daar is spandeer hy aan sy sport en vriende.  Ons sit nooit meer sommer net en gesels nie, ons het net nie meer pret en plesier soos toe ons jonk getroud was nie.  Die lewe het so ernstig geword .

Of……..

Niks wat ek doen is goed genoeg nie, sy vind fout met alles.  Ek is of te veel by die werk of ons het te min geld, ek is te streng met die kinders en kyk te veel TV.  Sy het altyd tyd vir haar vriende maar nooit tyd om saam te gaan muurbal speel of rugby kyk nie.  Sy was dan my beste vriend, wat het van haar geword.

Klink dit dalk ‘n bietjie bekend, of is die “wors” gedeelte van jou huwelik baie erger as dit?  Salomo het in sy groot wysheid gesê “ yster slyp yster, so slyp die een die ander.”  Die manne tree in die huwelik met die verwagting dat hulle vrouens nooit sal verander nie, en dan verander hulle, terwyl die vroue die huwelik ingaan met die verwagting dat die man darem sal verander en dan verander hulle nooit nie.  Al wat dan oorbly is nie meer die slypproses nie, maar ‘n afbreekproses wat baie keer lei tot groot hartseer en onmin,  wat nie net die verhouding beskadig nie, maar ook letsels by die kinders kan laat.

Ons glo onwrikbaar daarin dat God se huwelik op ‘n paar eenvoudige beginsels gegrond is nl:

  • Aanvaar mekaar onvoorwaardelik.
  • Kruisig die eie ek in jou lewe.
  • Vergewe mekaar in Christus Jesus.

Ons probeer so hard om die mense te word wat ons maats gelukkig sal maak, dat ons skoon vergeet om die mens te word wat God gelukkig sal maak.  As elke man op die plek kom waar God hom wil hé en elke vrou op die plek waar God haar wil hé, sal die resultaat daarvan ‘n uitmuntende huwelik wees.  Dan sal ons verhouding met ons kinders en medemens eenvoudig ‘n fees wees en ons sal soveel “botter” in ons lewens hé, as wat ons harte begeer.

Iemand het eendag gesê: “The greatest weapon in life is unconditional love, because it creates it`s own response”  Neem vandag die besluit en hanteer jou maat met daardie liefde al verdien hy of sy dit nie, dan stel jy God se krag in werking.  Verlustig jou in Hom en Hy sal jou gee, die begeertes van jou hart, verlustig jou in Hom.

Uit die pen van Deon en Karin van Huweliksfokus.

Vir meer inligting oor ons wegbreeknaweke vir verloofdes en getroudes kan jy gerus vir Elta Lubbe skakel by Telefoon 012 653 3167.  Sy sal jou ook meer vertel aangaande ons huweliksweke en weeklikse huweliksbougroepe.

 

Comments are closed.

Set your Twitter account name in your settings to use the TwitterBar Section.